Kampersrus Nederduitsch Hervormde Kerk

Kampersrus Nederduitsch Hervormde Kerk Ons is n gemeente van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Hier praat ons gemeentelede met mekaar. Jy is ook welkom.

Dit is met die grootste hartseer in ons gemoed:  Engela van Staden is gisteraand (Sondag) aan n hartaanval oorlede.  Haa...
24/06/2024

Dit is met die grootste hartseer in ons gemoed: Engela van Staden is gisteraand (Sondag) aan n hartaanval oorlede. Haar seun, Francois, het haar dood bevestig. Harry en Engela was in Pretoria vir haar broer se begrafnis wat môre plaasvind. Ons is in diep rou gedompel.

Hier word verwoed gevier aan die Mevrou se verjaarsdag!  Baie geluk Susan!
09/05/2024

Hier word verwoed gevier aan die Mevrou se verjaarsdag! Baie geluk Susan!

08/05/2024

Uit vandeesweek se Blitspos

Jesus se hemelvaart

Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” (Handelinge 1: 9-11, AFR1983)

Die gebeure van die hemelvaart kan met die eenvoudige, bekende – alhoewel steeds gebrekkige – beeld van ’n aflosresies vergelyk word. Tydens Jesus se hemelvaart het Hy vir ons ’n aflosstokkie in die hand gegee. Jesus plaas ons Goddelike roeping, die verkondiging en die uitbouing van die koninkryk van God, in mense se hande. Hemelvaart, as voorloper vir Pinkster, is deels die ontstaansmoment van die kerk – dis hierdie moment waarin die kerk haar roeping ontvang. Dis ons hande waarin Jesus die aflosstokkie los, en nou moet ons daarmee hardloop.

Maar dalk leef iets van wat in die dissipels se harte geleef het op daardie dag, ook in ons harte. Daar staan hulle met die aflosstokkie in die hand en staar na die hemel, lank nadat Jesus uit hul sig verdwyn het – verward, oorweldig en stomgeslaan. Waarskynlik het hulle ’n horde vrae in hul gedagtes, ’n stuk twyfel en ’n gevoel van onbevoegdheid vir die resies wat voorlê.

Dalk voel jy ook onbevoeg vir die aflosstokkie wat Jesus hierdie Donderdag met sy hemelvaart in jou hand gaan plaas. Dalk d**k jy dat jy dit te maklik gaan laat val, of weet jy nie of jy dit reg gaan kan aangee nie, maar gelukkig weet God. God ken ons tekortkominge en foute en tog kies Hy steeds om die aflosstokkie in ons bewerige hande te plaas.

Gelukkig, anders as in ’n gewone aflos, laat Jesus ons nie aan ons eie genade oor nie. Hy los verantwoordelikheid in ons hande, maar anders as ’n atleet wat alleen moet hardloop met die stokkie in sy hand, belowe Hy die dissipels en ons, dat Hy krag sal gee en dat Hy altyd naby aan ons sal bly. Dat Hy ons nooit sal los nie. En Hy kom dan ook sy belofte na!

Ons lees dit in Markus 16: 20: ...en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het....
En in Matteus 28: 20: En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Is dit nie ongelooflik nie dat God kies om deur mense te werk? Dat God kies om iets so belangrik in ons hande te laat? En ja, ons gaan die stokkie soms laat val. Ons, en verskeie mense voor ons, ook die Kerk, het die stokkie al laat val en sal dit weer doen. Maar met hulle,
en ook met ons, begin God telkens oor en sit Hy geduldig weer die aflosstokkie in ons hande terug.

Mag ons elkeen op Hemelvaartdag, maar ook elke dag, onthou dat God kies om deur ons in hierdie wêreld wonders te vermag. En dat Hy deur ons sy koninkryk nou reeds op aarde laat deurbreek. Mag die nalatenskap van sy hemelvaart in ons lewe tot Lewe kom.

Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

Ons gemeente het interessante bure:  Die Jahara Drug and Alcohol Rehabilitation Centre.   Mark Lewis en sy span terapeut...
08/04/2024

Ons gemeente het interessante bure: Die Jahara Drug and Alcohol Rehabilitation Centre. Mark Lewis en sy span terapeute help mense daar met chemiese- en ander vorme van afhanklikheid en verslawing.

Met dié dat ons gemeente se kerkgebou meestal deur die week in onbruik is, het ons en Jahara ooreengekom dat hulle die geboue kan benut. Tans gebruik hulle ons kerksaal om op Sondagaande daar erediens te hou, en deur die week die orkes hulle kerkmusiek te laat oefen.

Ons het aanvanklik gewonder of om n nuwe kerk in ons gemeenskap te help plant, n goeie idee sou wees: Ons is tog gebind tot die eenheid van die kerk.

Mark het ons oortuig dat Jahara se inwoners n unieke bediening regverdig: Hulle is almal mense wat al verwerping (ook deur die kerk) beleef het, en sagkens dog ferm die dissipline van gelowig kerk te wees, weer moet aanleer. Daarvoor is n veilige omgewing nodig, maar ook bestuurde kontak met die breëre gemeenskap - inwoners moet immers ook weer leer inpas. Daarom is n erediens gelei deur mense wat Jahara se inwoners se eiesoortige nood en behoeftes verstaan, gewens. As daardie erediens ook buite die grense van die Jaharasentrum kan plaasvind, om so ook vir die plaaslike gemeenskap toeganklik te wees, soveel te beter, want dan kom die herintegrasie in n geloofsgemeenskap tereg.

Jahara se erediens hou vir ons geen bedreiging in nie, want die taal is Engels en die kerkkultuur heeltemal verskillend. Met dié kom ons goed klaar en groei daar wedersydse gemaklikheid.

Gaan kyk wat Jahara alles doen by https://www.jahara.co.za/

Een van die goed wat ons nadenke oor kerkwees hier in Kampersrus ons laat besef het, was dat ons lidmate gemiddeld 60 ja...
08/04/2024

Een van die goed wat ons nadenke oor kerkwees hier in Kampersrus ons laat besef het, was dat ons lidmate gemiddeld 60 jaar oud is. Kortom, hulle lyk maar soos ek! Grys dus en lank in die tand.

Vandat ek n dominee geword het, probeer ons tevergeefs die kinders by ons hou. Daardie stryd stry ek nou al vir 40 jaar. Nou het ek besluit die stryd is gewonne. Ons gaan nou eienaarskap vat van wie ons alreeds is: n gemeente van volwasse gelowiges.

Dié besluit het voordele: Ons is nie meer op n melkkosdieet nie. Ons eet vleis rys en aartappels, anders (so het my oupa geglo) was daar nog nie kos op sy tafel nie. Ons mag maar, d**k ek.

Met die onlangse nadenke hier in Kampersrus Hoedspruit ook oor presies wie ons is en wil wees, wou ons dit beter laat bl...
08/04/2024

Met die onlangse nadenke hier in Kampersrus Hoedspruit ook oor presies wie ons is en wil wees, wou ons dit beter laat blyk dat ons deel is van ons geliefde Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Ons het besluit om die baadjie van die NHKA met oorgawe aan te trek. Ons wil lyk soos die res van die Kerk.

Daarom het besluit dit is tyd vir die korporatiewe identiteit van die NHKA om ook hier by ons grond te vat. Nou lyk ons so, en ons is nie bietjie trots daarop nie.

Langs die pad Hoedspruit uit, staan daar n groot nuwe bord wat ook so lyk, en nog twee borde wag vir n plek om geplant te word.

Ons gemeente het in die tyd toe ons so stil was, verjaar!  Ons het op 7 Maart 70 jaar van evangeliebediening op Kampersr...
08/04/2024

Ons gemeente het in die tyd toe ons so stil was, verjaar! Ons het op 7 Maart 70 jaar van evangeliebediening op Kampersrus gevier.

Deel van daardie viering het ingesluit dat ons grondig selfondersoek gaan instel het oor ons roeping en bediening. Onder leiding van die NHKA se Sentrum vir Gemeentelike Bediening het ons tot verskeie nuwe insigte gekom oor hoe ons beter gemeente van die Here kan wees hier waar ons leef.

Een uitvloeisel uit hierdie proses was om beter blyke te gee van waar ons is en wie ons wil bereik. Met dié het ons besluit om ons naam te verander. Ons is nou die NHKA Gemeente Kampersrus Hoedspruit.

Die Gemeente se ouers van kategesepligtige kinders het gevra daar moet naas die kategesemateriaal van die NHKA, meer toe...
08/04/2024

Die Gemeente se ouers van kategesepligtige kinders het gevra daar moet naas die kategesemateriaal van die NHKA, meer toeganklike kategesemateriaal ontwikkel word waaraan die kinders en ouers self kan werk. Dit in die lig van die afname aan kinders in ons gemeente.

Destyds, met die Hervorming en daarna, was die vraag-en-antwoord-metode van leer n goeie werkswyse en die Heidelbergse Kategismus het dié vorm aangeneem. Deesdae is dagstukkies waarvan n mens een op n dag kan lees as deel van jou gewone stiltetyd, beter haalbaar. Dit is dan ook die formaat van hierdie materiaal. Daar is 40 dagstukkies in elke bundel.

Deel 5 A en B is nou volledig beskikbaar. Dit dek die Heidelbergse Kategismus in n verkorte vorm. Dele 1 en 2 is ook al klaar, en handel oor die Ou- en Nuwe Testamente onderskeidelik. Dele 3 en 4, wat op hulle b***t ook sal handel oor die res van die Ou- en Nuwe Testamente, is die volgende mikpunt.

Kontak ons by [email protected] vir meer inligting en om die bundels wat klaar is, gratis te kan ontvang.

08/04/2024

Die gemeente se facebook-blad het die afgelope tyd stil gestaan omdat kuberkrakers my profiel verfonkfaai het en ek om die dood nie daar kon inkom nie. Vir die soveelste keer het ek nou weer daarin geslaag om weer op die blad te kom en hopelik is dit (vir ten minste n rukkie) moontlik om weer van ons eie blad eienaarskap te neem. Jammer oor die stilswye, maar dit was buite ons beheer.

Nou goed, ek het belowe om, aangesien die gemeente nie juis adventsliedere ken nie (ons liturge slaan dit te maklik oor)...
04/12/2023

Nou goed, ek het belowe om, aangesien die gemeente nie juis adventsliedere ken nie (ons liturge slaan dit te maklik oor), dat ons van komende Sondag af Kersliedere sing. Ek loop die risiko om ons erediens te laat klink soos Checkers en Pick n Pay, maar nou ja, hier gaan ons! Laat Kersfees kom.

Photo by Vinícius Vieira ft: https://www.pexels.com/photo/nativity-set-figurine-3355002/

Ons gemeente op Kampersrus krimp.  Dit voel of ons al minder van n impak op die wêreld om ons maak.  Daarom het ek ged**...
30/11/2023

Ons gemeente op Kampersrus krimp. Dit voel of ons al minder van n impak op die wêreld om ons maak.

Daarom het ek ged**k dit sal help as ons hierdie statistiek hier deel.
Die webwerf waar al ons eredienste aanlyn verskyn, https://hennielagrange.wordpress.com/ is net in November vanjaar 2096 keer deur 1439 mense besoek.

Miskien het nie almal daaruit waarde kon put of veel daarvan gelees nie, maar ons het n aanlynbediening wat veel verder strek as wat ons van weet.

Daarbenewens voeg ons weekliks nog mense op hulle versoek by ons whatsapp versendingslys van klankopnames van Sondae se preke.

Hennie la Grange, predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika by die Gemeente Kampersrus, plaas hier transkripsies van eredienste met liturgieë en preke, en ander artikels.

Address

Marestraat 73
Hoedspruit
1371

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Kampersrus Nederduitsch Hervormde Kerk posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to Kampersrus Nederduitsch Hervormde Kerk:

Share