04/09/2026
GEBREEKTE BRIL
Deur Johan Terblanche
Verlede naweek het ek ‘n groot boom korter gesaag. Terwyl ek bo in die boom was met die kettingsaag het ‘n tak afgebreek. Toe die tak val, het dit my kop oop gesny en my bril wat afgeval het, het gebreek. Nadat my dogter die bloeding gestop het, het ek na my bril gekyk en besef dat dit nie reggemaak kan word nie. Ek sal ‘n ander bril moet kry.
Soms kyk ons na die lewe en omstandighede deur gebreekte brille.
Die eerste bebreekte bril waardeur ons kyk is die bril van ongeloof. Dit gebeur wanneer ons nie glo dat Jesus vir ons is nie of dat Hy nie vir ons kan voorsien nie. Hebreërs 11:6 sê dat dit onmoontlik is om God se wil te doen of te ervaar as ons nie glo dat Hy bestaan en diegene wat Hom soek, beloon nie.
Die tweede gebreekte bril waardeur ons kyk is die bril van verkeerde geloof. Dit gebeur wanneer ons geloof in onsself of in ander mense groter is as ons geloof in Jesus. Verkeerde geloof sê ek kan op my eie regkom of dat iemand anders ons sal help. Volgens Johannes 15:5 kan ons niks op ons eie doen nie. Jeremia 17:5 sê dat die mens wat op ander mense vertrou, verloek sal wees.
Nog ‘n gebreekte bril waardeur ons soms kyk is die bril van vals geloof. Vals geloof is geloof wat nie in ag neem wat die Here van ons verwag nie. ‘n Voorbeeld hiervan is opgeteken in 2 Kronieke 7:14. Baie keer glo ons verkeerdelik dat die Here ons land sal genees maar ons neem nie in ag dat ons eers onnself moet verootmoedig, bid, God se aangesig moet soek, en ons moet bekeer voordat die Here die genesing gaan gee nie.
Hoe stel ons dit reg? Soos wat ek nou ‘n nuwe bril moet kry moet ons ook ‘n nuwe bril van geloof kry en aansit. Ons geloof moet in Jesus Christus wees.
Die Bybel sê dat ons gered word deur geloof. (Sien Johannes 3:16 en Efesiërs 2:8-9)
Volgens 2 Korinthiërs 5:7 en Romeine 1:17 lewe ons deur geloof in Jesus Christus. Dit is Jesus wat ons staande hou in die lewe.
Omdat ons deur die bril van geloof kyk, kan ons die Here nader in gebed en Hy sal in ons behoeftes voorsien volgens Markus 11:22-24.
Ten slotte, kom ons kry ‘n nuwe bril. Kom ons kyk deur die bril van geloof in Jesus Christus. Dan sal die Here ons nie net red nie, maar Hy sal ons vrede en vreugde herstel deur ons gebede te hoor en te verhoor.
Sou u gebed benodig kan u aan ons skryf by [email protected]
Groete,
Johan Terblanche
Christ Alone Ministries