Geestelike Vitamines - SFM Streek Radio

Geestelike Vitamines - SFM Streek Radio Geestelike vitamines word elke weeksoggend om 05:55 en Saterdae om 05:55 op SFM radiostasie uitgesaai. Sondae vanaf 07:00 tot 09:00 is die geestelike gym sessie

27/02/2023

Oordenkings word van Maandag tot Saterdag om 05:55 uitgesaai op SFM Streekradio. Indien jy ‘n die oordenking (geskrewe) per whatsapp wil ontvang laat my weet per whatsapp - 082 9200088. Seënwense, Johann Lerm

31/01/2023

Nahum 1:7 “Die Here is goed. Hy is ’n toevlug in tyd van nood. Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.”

Die Here gee werklik om vir ons. Hy is lief vir ons en troos ons vanoggend met hierdie teks.

Ons het die versekering dat die Here, na elke terugslag of hartseer oomblik, ons die moed gee om aan te gaan en voort te gaan. Hy verseker ons dat Hy deur sy Gees self by ons.

Neem jou toevlug nou na Hom en ervaar vrede, veiligheid en sekuriteit in sy teenwoordigheid. Dis nie nodig dat jy jou stukkie hartseer alleen dra nie. Gee dit vir die Here. Hy staan reeds met oop arms en wag dat ons ons in sy arms werp.

Gebed
Vader, U ken my stukkie hartseer. Dalk is dit net ek en U wat daarvan bewus is. Ek neem nou my toevlug na U. Help om veilig te voel en vrede te ervaar. In Jesus Naam. Amen

30/01/2023

Is dit nie ’n wonderlike wete om te weet dat God vir ons omgee en vir ons sorg nie.? Die Psalmdigter som dit so mooi op in Psalm 3:5-6: “As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.”

Wat ookal jou omstandighede is, jy hoef nie bekommerd te wees nie. God skenk vir ons alles wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. En ja, ons kry nie altyd presies wat ons wil hê nie. Maar, ons kry genoeg om te wees wat God wil hê ons moet wees.

Hierdie wete behoort ons met vreugde, blydskap en gemoedsrus te vul en selfs goed te laat slaap.

Gebed
Vader, dankie dat U vir ons gee wat nodig is om te lewe en U te dien. Dankie vir die versekering dat U omgee vir ons. In Jesus Naam. Amen

27/01/2023

Daar is so baie mense wat onvergenoegd is in die tyd waarin ons leef. Die nadeel is dat solank jy negatief en onvergenoegd is, sal daardie gesindheid jou hou net waar jy is.

Psalm 37:23 sê: “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is en Hy ondersteun Hom.”

Glimlag vandag en wees goed vir mense, al is hulle nie goed vir jou nie. Wees dankbaar oor waar jy werk en waar jy bly, al is dit nie werklik waar jy wil wees nie. Solank ons in ons unieke omstandighede gelowig en dankbaar bly, is ons waar ons moet wees en God sal vir ons alles ten goede laat meewerk.

Gebed
Vader, help my om my dankbaarheid uit te leef deur my positiewe gesindheid. In Jesus Naam. Amen

26/01/2023

Psalm 16:11 “Leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.”

Frustrasie, ongelukkigheid en negatiwiteit is sleg vir ons want dit sny ons gelukstoevoer af.

As ons in ’n verhouding met Jesus en in Sy teenwoordigheid lewe, kan ons mos nie anders as om gelukkig en bly te wees nie.

Kom ons wees vriendelik met almal wat ons teëkom. Glimlag breed vir almal wat jou pad kruis en beleef hoe mense om jou opgebeur word.

Kom ons wees eerlik. Verkies jy nie ook om eerder saam met mense te werk en te leef wat gelukkig, gaaf en vriendelik is nie?

Gebed:
Vader, vul my asseblief met U krag en U vreugde sodat ek met blydskap en ’n breë glimlag kan lewe. In Jesus Naam. Amen

25/01/2023

Ek het saam met iemand gewerk wat my skaars gegroet het, nie met my gepraat het nie en my ignoreer het. Dit het gelyk of die persoon my nie eers raaksien nie. Dit het my baie gepla en ek het agtergekom dat dit my lewe begin beinvloed het. Ek het besluit om nie toe te laat dat hierdie persoon my dag bederf nie. Ek het haar ten alle tye vriendelik gegroet en baie beleefd behandel. Dit was nie lank nie of haar totale gesindheid het teenoor my verander.

Jesus sê in Matteus 5:5: “Geseend is die sagmoediges….”

Sagmoedigheid is nie ’n swakheid nie, maar dis beheersde krag. As jy sagmoedig is probeer jy nie om almal altyd tereg te wys nie, reageer jy nie op elke kritiese uitspraak nie en al praat mense oor jou steur jy jou nie daaraan nie.

Volg eerder die apostel Paulus se raad in 2 Timoteus 4:5 “Bly in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk.”

Gebed:
Vader, help my om sagmoedig te wees en met selfbeheersing op te tree. Gee dat ek sal weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. In Jesus Naam. Amen

24/01/2023

Johannes 14:27 “Vrede laat Ek julle na; My vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, julle moet nie bang wees nie.”

Om nie ontsteld en bang te wees nie, is ’n keuse. Dikwels is dit mense wat ons ontstel en ons geluk steel.

Neem vandag die besluit om nie toe te laat dat een persoon, wat self probleme het, jou daarvan weerhou om die mens te wees wat God bestem het jy moet wees nie. Vra die Here om jou te help in die omstandighede.

Jesus self sê in Johannes 14:27; “Moenie ontsteld wees nie, moenie bekommerd wees nie.”

Gee dit wat jou ontstel en ongelukkig maak, nou vir Jesus.

Gebed:
Vader, dankie dat U my bron van vrede is. Help my om, ongeag my omstandighede, nie bang of onsteld te wees nie. In Jesus Naam. Amen

23/01/2023

Wat verhoed jou dat jy positief en opgewonde is oor die dag, wat voorlê? Wat steel vandag jou blydskap?

Die Here wil dat ons omstandighede nie ons fokus van Hom af wegneem nie. Hy wil dat ons Hom in alle omstandighede met blydskap dien. Sjoe - ek d**k dis moelik, maar nie onmoontlik nie. Hoor wat sê die Woord in Jeremia 33:11: “Loof die Here die Almagtige, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Wees asseblief vandag daarop ingestel om bly te wees. Moenie die heel tyd top oor dit wat jou bekommerd maak nie. Konsentreer om te glimag. Moet onder geen omstandighede jou blydskap prys gee nie. Onthou as jy vol blydskap en vreugde is, is dit onmoontlik om mismoedig en negatief te wees.

Gebed
Vader, ek bid vanoggend dat niks my blydskap steel nie. Help my om te wees wat U wil hê ek moet wees en dat ek word wat U vir my bestem het. In Jesus Naam. Amen

20/01/2023

Dis so asof dit makliker is om te kla, negatief te wees en aan negatiewe gesprekke deel te neem. Oral loop ons ons vas teen mense wat swaarkry. Opgeruimde en vriendelike mense is skaars.

Maar ons kan anders wees. Veral ons wat aan Jesus Christus behoort en aan God vashou. Dan is ’n glimlag en posititiwiteit mos deel van ons lewens. En ja, ons kry ook soms bitter swaar, maar ons het die versekering dat God ons liefhet en die beste uitkoms sal gee.

Jou beste dae lê nog voor. God sál ingryp en jou op ’n onverwagte wyse ’n uitweg bied. Al kry jy nou swaar, moet jy onthou dat die Duiwel jaloers is en hard veg as hy weet dat God iets wonderlik en beters vir jou bestem het.

Die Here belowe in Jesaja 43:19:
“Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

Gebed
Dankie Vader dat U lief is vir my. Help my om nie mismoedig te wees nie, maar altyd aan U vas te hou. In Jesus Naam. Amen

Address

SFM STREEKRADIO
George
6529

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Geestelike Vitamines - SFM Streek Radio posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share