31/08/2026
2. HOE LEEF JY?
Ons moet versigtig wees om God altyd die skuld te gee wanneer dinge nie verander soos ons wil hê nie.
Dit is maklik om te sê: “Maar die Here wil my nie help nie,” of: “Hoekom bring God nie uitkoms nie?”
Maar soms moet ons eerlik voor God gaan buig en vra:
Het ek werklik gedoen wat die Here vir my wys?
🍃 Is daar iets waaraan ek nog vasklou?
🍃 Is ek gehoorsaam wanneer God met my praat?
🍃 Verwag ek uitkoms, maar neem ek nie my eie geestelike lewe ernstig op nie?
Ons kan nie aanhou volgens die vlees leef nie, ons eie wil volg en God se leiding ignoreer, en dan God blameer wanneer ons die gevolge daarvan dra nie.
Dit beteken nie dat elke moeilike situasie die gevolg van ongehoorsaamheid is nie. Soms gaan gelowiges deur moeilike tye en beproewings. Maar ons moet ook nie God beskuldig sonder om eers ons eie hart te ondersoek nie.
📖 “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.”
– Jakobus 4:8
Die Here se hulp beteken ook nie altyd dat Hy ons onmiddellik uit ’n situasie verwyder nie.
Soms wys Hy ons wat ons moet verander, soms roep Hy ons tot bekering, soms vra Hy gehoorsaamheid, en soms dra Hy ons deur die storm terwyl Hy ons geestelik versterk.
Moenie net vra:
“Here, hoekom help U my nie?” Hoekom gaan dit so in my lewe?
Hoekom kan dit nie beter gaan nie?
Vra ook:
“Here, wat wys U vir my, wat sien ek nie raak nie?
“Waar moet ek verander?”
“Is daar iets wat ek moet los?”
“Wat vra U van my?”
💛 God sit mense op jou pad om jou te help, aanvaar die hulp, en draai volkome terug na God. Sonder God is jou ondergang baie naby.
God is getrou. Maar ons kan nie verwag om die vrug van ’n lewe in die Gees te dra terwyl ons aanhou om volgens die vlees te leef nie.
Neem jou geestelike lewe ernstig op. Soek die Here. Bid. Lees Sy Woord. Wees gehoorsaam wanneer Hy jou oortuig. En vertrou Hom, selfs wanneer die uitkoms nie onmiddellik kom nie.
👑 God se stilte beteken nie noodwendig dat Hy afwesig is nie. Maar ons moet ook bereid wees om stil te word en te luister na wat Hy vir óns sê.
Ons eie hart ondersoek of ons in Sy wil leef. En alle haat, woede en bitterheid aflê, vergewe die wat jou seergemaak het, en te na gekom het. Spreek vry, in Jesus se Naam.
En wees gehoorsaam aan Sy Woord.
🩸Laat toe dat die Bloed van Jesus jou kom reinig, heilig en skoonwas van alle kwaad.
📖👑🩸🔥