23/10/2020
Goeiemôre dames, lees asseblief die brief vanaf Béneli Pretorius, voorsitter Taakspan: Vrouebediening, wat ook per e-pos aan alle leraars, gemeentes, lidmate, ens gestuur is - let spesifiek op die paragraaf rakende die brande in die Wes-Vrystaat:
Omsendskrywe 2/2020
22 Oktober 2020
Aan alle Vrouelidmate
Ons is in die mooiste mooiste maand van Oktober en ten spyte van die vreemde omstandighede waarin ons ons nou bevind, vertrou ek dat dit goed gaan met die vroue in die Vrystaat. Die Covid-19 inperkings het ons samelewing baie broos gelaat. Ons word gekonfronteer met onbekende omstandighede. Die Covid-19 pandemie het nie net die nood in ons wêreld kom uitlig nie, maar ook groot nood meegebring.
Met die omstandighede wat drasties verander het, gaan ons vir ‘n wyle die Vroeë Kind Ontwikkelings- projek op ys plaas. Met die groeiseisoen op hande, wil ons graag ‘n houer-tuinprojek van stapel stuur. Met die meelprojek wat reeds in die Vrystaat geloods is, wil ons as vroue daarby aansluit deur houers met groenteplantjies te versprei. Ons moedig die dames aan om groente soos spinasie, kool, wortels, tamaties, ensovoorts, in enige houer te plant. Vroue kan ook self die houertuin versorg of die houertuin saam met die bestaande voedselprojek versprei. Die ander opsies is om die groente aan instansies soos ouetehuise, jeugsorgsentrums in die gemeentes en gemeenskap te versprei. Indien Vrouebedieninge in gemeentes meer inligting oor dié werksaamhede wil bekom, of ‘n projek wil inisieer, is julle welkom om met my te skakel.
Ons moedig ook gemeentes aan om betrokke te raak by die projekte wat deur Engo geloots word, ondersteun gerus die Cashback-program. Inligting rakende hierdie projekte verskyn gereeld in Vrypos (nuusbrief van die NG Kerk Vrystaat - indien jy nog nie daarop ingeteken is nie, stuur jou naam, gemeente en e-pos adres aan [email protected] en versoek dat hulle jou inteken). Indien jy ook omsendbriewe wil ontvang, stuur asseblief jou naam, gemeente en e-pos adres aan [email protected]
Elke vrou is deeglik bewus van die oorlewingstryd wat in gemeentes aan die gang is. Daarom doen ons ‘n beroep op die vroue om die predikant, sáám met die inwoners van die pastorie, in besonder in hierdie tyd te ondersteun. Die digitale bediening het nuwe uitdagings meegebring en daarom moet ons meer as ooit soos ‘n Aäron Moses se hande omhoog gehou het, ons predikante se arms omhoog hou.
Omdat daar nog beperkings op byeenkomste is en sekere reëls geld, gaan daar hierdie jaar nie enige Ringskonferensies plaasvind nie. Ons kan ook nie beplan aan ‘n toerustingsgeleentheid vir 2021 nie, daarom sal ons as Taakspan graag betrokke wil wees by die Ringskonferensies wat beplan word vir 2021. Die Ringsverteenwoordigers kan met Marietjie van der Merwe by 076 113 9601 in verbinding tree om die nodige reëlings te tref.
Baie dankie aan die gemeentes wat in die wintertyd hulp verleen het om die nood van die weerlose mense in ons samelewing te verlig. Só dra ons die Lig en hoop uit aan die wêreld...
Brande in die Wes-Vrystaat: Ons as Vrouebediening in die Vrystaat d**k in ons gebede aan die boere in die Wes-Vrystaat wat gebuk gaan onder die brande, talle boere het letterlik al hulle besittings verloor. Daar is verskeie organisasies wat reeds hulp aangebied het en wat ons ook ondersteun.
Daar is ook met ‘n noodboksprojek begin - in hierdie boks kan toiletware, blikkieskos, beskuit, tee, koffie, koekies, suiker, langlewe melk en “oor die toonbank medisyne” gepak word. Die afgeepunt in Bloemfontein is by die NG Kerk Gardeniapark, Jasmynlaan 3. Dit kan Dinsdae tot Vrydae tussen 08h00 - 13h00, vóór of op 30 Oktober 2020 afgegee word, waarna dit dan onder boere versprei sal word.
Enige finansiële skenkings kan aan Vrystaat Landbou se rampfonds gemaak word by:
Bank: Absa
Rek nr: 470 940 670 (tjek)
Tak: 632 005
NB! Verwysing: RAMP + jou naam
Vir direkte skenkings skakel asseblief vir Gys Olivier - Hertzogville 082 575 7028 / Boeta de Waal - Boshof 082 578 5303 / Martin Nel - Dealesville 083 991 2149 / Andre J van Rensburg - Bultfontein 082 573 8867 / Jacques van Zyl - Hoopstad 082 883 2630.
Baie dankie aan elke vrou wat deel is van ‘n Vrouebediening. Mag elkeen van julle júl lig laat skyn, hoop bring en ‘n verskil maak in jou gesin en gemeente.
Seënwense.
Béneli Pretorius
Voorsitter: Taakspan Vrouebediening