01/02/2024
Ons maatskaplike krisis kan ook `n geleentheid wees
Godsdiens Aktueel | Braam Hanekom
Van Jesus Christus se heel ernstigste vermanings is uitgespreek teenoor diegene wat nalaat om dié wat honger en dors is te voed, die siekes en gevangenes te versorg, die vreemdelinge gasvry te ontvang en dié sonder klere te klee. Lees gerus Matteus 25. Bono van die rock-groep U2 het op ’n keer gesê dat dit vir hom die heel belangrikste teks in die Bybel is.
In Suid-Afrika stuur ons op ’n welsynskrisis af. Na beraming is daar tans ’n tekort aan 50 000 maatskaplike werkers in Suid-Afrika. Om en by 800 gekwalifiseerde dokters word nie aangestel nie, omdat daar nie geld is nie. Net in die Wes-Kaap is die welsynsbegroting wat van nasionale regering ontvang word, met R1.2 miljard rand gesny. Dit terwyl die staat tans meer as R5 miljard per week moet leen, net om hul verpligtinge na te kom. Internasionale organisasies soos The Organisation for Economic Co-operation and Development (OECD) het reeds uitgewys dat ons salarisrekening as persentasie van ons BBP buite verhouding hoog is, in vergelyking met lande soos China en ook ander ontwikkelende lande.
Die National Development Agency het in 2022 uitgewys dat ons BBP en werksgeleenthede van 2008 tot 2021, onderskeidelik met slegs 5.3% en 8.0% gegroei het. Daarteenoor het die bevolking met 20.7% , die arbeidsmag met 28.8% en die werkloosheidsyfer met 57.1% in die ooreenstemmende tyd gegroei. Natuurlik het toelaes ook gegroei, maar die punt is dat sistemiese armoede en ellende soos ’n brander oor ons breek. Waarom die relaas en wat het dit met gelowiges te doen? Ons staan voor twee uitdagings.
Die eerste is dat die staat ons nie uit hierdie ellende gaan red nie. Hul geld is op. Die tweede is dat kerke self in die g*t getrap het om hul versorging en welsyn grootliks te “institusionaliseer” in groot kerklike welsynsorganisies. Hierdie organisasies het reusewerk verrig en moet erkenning kry. Hulle was en is steeds egter ook van staatsbefondsing afhanklik en dit word ook nou gesny. Honderde maatskaplike werkers in die sisteem loop tans die gevaar om hul werk te verloor.
Die diakonale verantwoordelikheid van gelowiges en die plaaslike gemeente word reeds in vroeg Nuwe Testamentiese tye beklemtoon. Jesus self het dit onderstreep.
Ek is oortuig dat ons die boodskap weer ernstig sal moet neem. Gemeentes kan byvoorbeeld met ander gemeentes, kerke en sakelui op ’n dorp hande vat en verantwoordelikheid neem vir ’n maatskaplike werker. Terloops, die NG Kerk se eie privaat opleidingsinstelling, Hugenote Kollege, lei steeds van die heel meeste maatskaplike werkers in die land op.
Die welsynskrisis is tans ’n reusekrisis, maar skep ook ’ְn wonderlike geleentheid vir die kerk. Mag ons in hierdie dae die regte mense om die tafel kry en met praktiese oplossings vorendag kom. Dit is wat die vroeë kerk van die res van die wêreld onderskei het.
Dr Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis