02/09/2021
*Dou vars uit die tuin🌱*
*_Volkome blydskap_ .*
*_Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My_ .*
*JOHANNES 15:9 AFR53*
Mense wat in Jesus bly, is vreugdemense. Hulle is verseker van God se liefde, mits hulle Sy opdragte uitvoer, in Sy liefde bly en mekaar liefhet.
Jesus vertel hierdie dinge aan Sy dissipels sodat hulle kan oorloop van vreugde. Want Hy gee nooit vir ons iets in klein maat nie, maar altyd in oorvloed. *“ _Wie na my toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in my glo, sal nooit weer dors kry nie_ ,”* belowe Hy in *Johannes 6:35.*
Ervaar jy Jesus se volkome blydskap in jou eie lewe? Hy wil jou ook Sy oorvloedige vreugde aanbied. Sóveel blydskap belowe Hy, dat jy dit nie vir jouself sal kan hou nie, maar dat dit sal oorloop na die mense om jou.
Augustinus het ’n pragtige ding gesê: *“Die Christen moet van kop tot tone ’n halleluja wees,”* en jy kán dit regkry, omdat die Bron van jou blydskap nooit van jou weggeneem kan word nie. *Habakuk 3:17–18* sê vir ons: *“ _Selfs al sal die vyebome nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan, al het die olyfoes misluk, en lewer die landerye niks op nie, al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg; tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die Here! Ek sal juig oor God wat my verlos!_ ”*
Al gebeur daar ook hoeveel rampe in jou lewe, Jesus is altyd daar vir jou. Hy kan jou help. Hy kan vir jou die vrug van blydskap in jou lewe gee – as jy bereid is om die oorvloed wat Jesus gee in jou lewe te aanvaar en dit deur te gee na ander.
Last ons *GEBED* dan wees:
*_Here Jesus, gee asseblief vir my U volkome blydskap in my lewe. Help my om in U liefde te bly, om ander mense opreg lief te hê en om elkeen van U opdragte uit te voer. Amen_* .
Geseënde dag vir jou en mooi loop. 👣✝️