03/04/2026
https://www.facebook.com/share/p/14ZAxPGuSYz/
Die tuin is nie stil vanaand nie.
Die olyfbome is oud, geknoop, kreunend en dit lyk of hulle na binne toe buig, so asof hulle weet die Skepper het gekom om onder hulle takke in mekaar te stort.
Jesus stap in en iets in die lug kraak oop.
Hy is gewoonlik die kalmte in elke storm. Maar vanaand is die storm binne-in Hom.
Sy bors is styf.
Sy hande bewe.
Sy asem kom in kort, oneweredige happe, soos iemand wat verdrink op droë grond.
Hy het dit nog nooit so gevoel nie.
Nie só nie.
Nie hierdie verpletterende, verstikkende vrees wat teen Sy ribbes druk tot Sy hart voel of dit kan oopbars nie.
En Hy weet hoekom.
Hy weet wat kom.
Hy weet die beker wat op Hom wag is nie hout en metaal nie, maar skeiding.
Dit is die skeur van die band wat Hy van ewigheid af met Sy Vader deel.
En dit is die angs.
Nie die spykers nie.
Nie die dorings nie.
Nie die kruis nie.
Maar die gedagte aan een oomblik, een asem sonder die nabyheid van die Vader.
Hy stort inmekaar soos ’n man wie se siel vergruis word onder die gewig van ’n wêreld wat nie eens weet dit gedra word nie.
Sy gesig druk in die grond in wat Hy self gevorm het. Sy trane deurweek die aarde wat Hy eens goed genoem het. Sy bloed druk deur Sy porieë want die vrees het ’n diepte bereik wat geen menslike liggaam ooit bedoel was om te dra nie.
En Hy roep uit... nie met die gesag van ’n Koning nie, maar met die desperaatheid van ’n Seun wat nie die gedagte kan verdra om Sy Vader se aangesig te verloor nie.
“Abba…
asseblief…
asseblief…
as daar enige ander weg is…
laat hierdie beker by My verbygaan.”
Dit is die rou, heilige eerlikheid van ’n hart wat so vurig liefhet dat dit bewe by die gedagte aan afstand.
Want die Vader is Sy vreugde.
Sy tuiste.
Sy asem.
Sy alles.
Hulle verhouding is nie net teologies nie
dit is tasbaar, diep en lewendig.
Dit is die soort liefde wat geen begin het nie en ook geen einde nie.
Die soort liefde wat sterrestelsels gevorm het en lig tot bestaan gefluister het.
En nou, vir die eerste keer, sal daardie liefde onderbreek word.
Vir jou.
Vir my.
Vir sondaars wat Hom nie eens gesoek het nie.
Hy snik weer.
Sy liggaam krul na binne.
Sy vingers grawe in die grond in.
Hy bewe so hewig dat selfs die engele wil instorm en die nag uitmekaar uit skeur.
Maar dan, in die middel van die vrees.
In die middel van die bewerighied.
In die middel van die bloed en die grond en die angs, skuif iets.
Hy lig Sy kop net genoeg op.
En Sy stem vorm die woorde wat die heelal oop skeur....
“Maar…nie My wil nie…maar U wil.”
Dit is liefde.
Liefde vir Sy Vader.
Liefde vir jou.
Liefde wat oorgawe kies selfs wanneer oorgawe soos die dood voel.
Hy aanvaar nie die beker omdat dit maklik is nie, ook nie omdat Hy vreesloos is nie, maar omdat om jóú te verloor meer ondraaglik was as om Sy eie lewe te verloor.
Watter liefde is dit?
’n Liefde wat bloei van vrees en tog gehoorsaam.
’n Liefde wat bewe en tog oorgee.
’n Liefde wat smeek vir ’n ander uitweg
en tog ja sê.
’n Liefde wat sondaars kies bo veiligheid.
’n Liefde wat die Vader kies bo ontsnapping.
’n Liefde wat jóú kies bo gemak.
Dit is die liefde wat die wêreld gered het.
Dit is die liefde wat in Getsemane gebreek het voordat dit op Golgota gebloei het.
Dit is die liefde wat nogsteeds jou naam fluister met dieselfde toewyding wat gefluister het, “Abba… U wil.”
En as jy mooi luister.....
As jy jou siel lank genoeg stil maak.
Sal jy Hom nogsteeds in die tuin hoor
asemhaal deur die vrees, wat jou weer en weer en weer, kies.
Jesus het in die donker neer gebuig.
Sy Vader se wil bo Sy eie vrees gekies.
Sodat jy nooit alleen deur jou donker nag hoef te gaan nie.
©️2026 Pragtige JY - Is Genoeg
Kopieëreg ~ Juanita Grobler