26/05/2025
WOORD VIR DIE WEEK
Tema: Is jy nog op reis met JESUS CHRISTUS?
Skrifgedeelte: Handelinge 28:1-10
*(Lees ook Handelinge 27 vir beter insig in hierdie verhaal.)
Om saam met CHRISTUS te reis is nie opsioneel nie – jy het aangemeld as SY dienskneg (Johannes 14:23). Daarom moet jy glo in GOD se Woord sodat jy die evangelie in Gees en Waarheid kan verkondig.
Kind van GOD, jy is doelgerig geskape. Sal jy, soos Paulus, getrou bly aan GOD se Woord en diensbaar bly in jou Skeppingsdoel te midde van moeilike omstandighede?
As jou geloof in JESUS CHRISTUS geanker is, gaan jy seerkry, maar nie ondergaan nie, want wat in jou is, is groter as wat teenoor jou staan. Ander mag oordeel uitspreek oor jou, maar niemand kan jou geloof of jou Kindskap in CHRISTUS van jou wegneem nie.
GOD het baie in Paulus belê – weet jy hoeveel HY in jou belê het? Wanneer jy van GOD se pad afdwaal, sal HY jou stop en terugbring.
Die inboorlinge op die eiland het nie die evangelie geken nie, maar deur GOD se krag wat in Paulus gewerk het, het hulle geglo. Al was Paulus oppad na gevangenisskap, moes hy steeds arbei om GOD se evangelie aan hulle te bring – soos GOD dit beplan het.
GOD het die inboorlinge voorberei vir Paulus en die manskappe - die inboorlinge het buitengewone mensliewendheid aan hulle bewys. Wanneer jy soggens in jou binnekamer GOD eer en erken, sal HY jou Leidsman wees en mense die Beeld van GOD in jou ervaar. As SY Woord in jou leef, kan GOD jou gebruik.
Op jou reis gaan hindernisse kom. As jy jou fokus verskuif na mense en nie op GOD hou nie, gaan jy verlore wees. Jy móét aanhou, want jou naam is reeds geskryf in die Boek van die Lewe. Al kry jy seer, moet die Evangelie steeds verkondig word – jy is GOD se werktuig.
Paulus het, pas ná ‘n skipbreuk, steeds diens gelewer. D**k jy die duiwel hou daarvan as jy ‘n dienskneg is? Beslis nie. Jy is nie gevrywaar van seerkry nie, maar onthou: jy werk op opdrag van die Almagtige GOD, en wat in jou is, is groter as die aanslae van die vyand. GOD het Paulus gespaar toe die adder hom gepik het – dieselfde GOD beskerm jou.
Waar sou ons gewees het sonder GOD se Liefde? Ons was verlore, totdat ons SY Liefde ontdek het en ons sonde op JESUS CHRISTUS geplaas het. Neem en eet die Brood van die Lewe, laat SY Bloed jou reinig.
Moenie ‘n klein "godjie" in jouself raak nie. Dis wat in jou is – JESUS CHRISTUS – wat jou heilig maak.
Bid soos CHRISTUS ons geleer het (Matthéüs 6:9). Dra jy nog die wapenrusting van GOD (Efesiërs 6:10)? Waarom stel jy GOD se Almag, jou beskerming teen die bose, uit?
Vrees GOD. Dis verskriklik om in die Hande van ‘n Lewende GOD te val. Moenie GOD speel nie – buig jou knieë sodat GOD ‘n welbehae in jou kan hê. Waak teen hoogmoed. Die Skrif waarsku: min sal dit maak. As jy heiligmaking nastreef, wil GOD jou gebruik, want jy is anders – dit is aangenaam om in jou teenwoordigheid te wees.
Moenie probeer "groot wees" nie – CHRISTUS sal jou op die regte tyd verhoog en Seën. JESUS CHRISTUS is GOD se reddende Regterhand. Ons verteenwoordig HOM – SY Lig en Krag is in jou. Wanneer jy HOM aantrek, sal jy diensbaar wees, en daar sal vrug wees op jou arbeid.
As CHRISTUS in jou leef, sal jy die vrug van die GEES dra – vrug waarmee ander gevoed kan word (Galasiërs 5:22). GOD wil hê jy moet bruikbaar wees vir SY Koninkryk. In JESUS CHRISTUS het jy die outoriteit om die bose te oorwin en seën uit te spreek.
GEBED: VADER, baie dankie vir die lering uit U Heilige Woord. Laat U Heilige GEES die Nawerker wees vir elkeen van ons. Help ons om aan U Woord vas te hou, dit te bewaar en te leef. U het ons eerste Liefgehad – nou kan ons ook sê: ons is Lief vir U. Behoed en bewaar ons in die Heilige Naam van JESUS CHRISTUS. Amen
Seëngroete,Prediker Pastoor Andrew