19/02/2024
Maandag
Wat weet die martelare?
HANDELINGE 7:55 (AFR83)
Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.
My kop los my nie, dit is soos ʼn spinnerak van gedagtes en bedrywighede. Veral vakansie tyd skakel alles in my aan, in plaas van af. Tog is dit nie sinneloos nie. Ek kry antwoorde, of ten minste, rigtingwysers.
Dit is die merkwaardige van ʼn verhouding met die Here. Die Bybel sê dit immers – vra en vir julle sal gegee word, soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak word.
Dalk nie alles op een slag nie, maar met verdrag.
So worstel ek met die martelare, mense wat ter wille van die Evangelie hul lewens prysgee, letterlik weggee.
Ek luister na ʼn voordrag waar daar melding gemaak word van, so herroep ek dit, veertig Christene wat vanweë hul getuienis naak op ʼn ysmeer aan die elemente blootgestel word. As hulle hul geloofsvertroue prysgee word hul onmiddellik gehelp. Indien nie, is sterf hul voorland.
Een van die Christene martelare gee toe aan die druk. Wie kan hom dit kwalik neem?
Hy word te hulp gesnel. Een van die soldate wat die martelare moet dophou word so aangespreek deur die voorbeeld van die ander nege en dertig, dat hy die een wat toegegee het, se plek inneem. Al veertig sterf.
My hart breek. Hoe kan dit, waarom, waar was die Here, so maal dit in my kop.
Ek raak skoon gespanne omdat ek so met die een identifiseer wat handdoek ingooi.
Ek bid stilweg, “Here, ek wil U nie teleurstel nie, maar ék sal dit nie maak nie”.
Hoe werk dit dan, wonder ek.
Dan hoor ek die Gees se stem. Vra in plaas van die hoekom en waarom vraag, eerder wat hierdie martelare van God beleef het en wat hulle so vasberade gemaak het.
Eweneens martelare deur al die eeue en ja, daar is steeds mense wat die hoogste prys betaal vir hul belydenis dat Jesus die Here is.
Wat het hierdie mense ontdek van God drie enig wat hulle staande gehou het en het ek genoeg daarvan ontdek dat dit my staande sal hou in uitdagende tye?
So dankbaar dat die Here die werk wat Hy in my ( en jou, en ons) begin het, self klaarmaak.
So dankbaar dat oorwinning nie in ons vermoë gesetel is nie, maar in God wat ons dra.
So dankbaar dat martelaars genade kom na martelare. Wat elkeen van ons vandag nodig het is ʼn ander tipe genade.
Genade om geloofwaardig in hierdie lewe op te tree, om die Waarheid nie geweld aan te doen nie, om versoenings gesante te wees, om ons families te beskerm, om Suid Afrika te laat werk.