28/08/2026
Spore van Hoop
28 Augustus 2026
Leef die waarheid as kinders van God
Teks: Efesiërs 4:25–5:5
Efesiërs herinner ons aan wie ons is: mense wat aan God behoort. Paulus sê ons moet die ou lewe agter laat en nuut leef; in die waarheid. In 4:25 lees ons: _“Praat die waarheid, want ons is lede van dieselfde liggaam.”_ Dit is ’n eenvoudige sin, maar dit sny diep. Waarheid is nie net feite nie; dit is ’n manier van leef wat God se hart weerspieël.
Ons weet hoe leuens ’n mens se wêreld kan skeef trek. ’n Gerug by die werk, ’n verdraaide storie in ’n familie, ’n halfwaarheid in ’n vriendskap — skielik is daar wantroue, spanning of verdeeldheid. Leuens ruk verhoudings uit mekaar en maak mense seer. Dit gebeur ongelukkig ook onder gelowiges. Soms leef ons self in ’n leuen wanneer ons woorde en ons dade nie by mekaar pas nie.
Paulus praat ook oor woede. Hy sê nie ons mág nie kwaad word nie — woede is deel van menswees. Maar hoe ons dit hanteer, wys of ons in die waarheid leef. Onbeheerste woede breek af; onderdrukte woede word bitterheid. Wanneer woede wortel skiet, kry die duiwel vatkans. Die waarheid vra dat ons woede aanspreek op ’n manier wat verhoudings bewaar.
Ons bely dat ons God se kinders is. Maar leef ons dit? Wanneer ons skinder, stories versprei, mense ignoreer wat swaarkry, of woedend uitbars, weerspieël ons nie die God wat ons Sondag na Sondag aanbid nie. Dan sê ons mond een ding, maar ons lewe iets anders.
As Christus in ons woon, verander ons. Hoe beter ons Hom leer ken, hoe meer wil ons soos Hy word. Hy het Homself gegee uit liefde. Daarom moet ons mekaar liefhê, selfs wanneer dit moeite kos.
Die ou lewe is vol dinge wat verhoudings en gemeenskappe vernietig: haat, naywer, rusies, afguns, losbandigheid, dronkenskap. Die nuwe lewe dra die vrug van die Gees: liefde, vrede, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Wanneer ons in die waarheid leef, word ons geloofwaardig as God se kinders. Dan kan mense in ons optrede sien dat Christus in ons woon — en só maak ons ’n verskil in ons huise, ons gemeente en die wêreld.
Ds Marissa Kidson