29/07/2024
Die openingseremonie van die Paryse Olimpiese Spele! Kyk nou net wat het dit alles vermag!
Mense reageer en d**k en praat en lees.
My eie gedagtes is ook ‘n warboel.
Ek wonder hoekom so baie Christene (insluitend ekke, op grond van een of twee foto’s) onmiddellik ged**k het dat die Dionysus-toneel die Laaste Avondmaal van Da Vinci uitgebeeld het.
Die ander ding wat ek hier teen Saterdag onthou het, is dat ons bang is vir dit wat ons nie verstaan nie. Dis natuurlik ‘n Godgegewe beskermingsmeganisme, maar genadiglik het ons ook die vermoë om dit te systap met ‘n tydelike terugtree, ‘n diep asemteug en dan die tower-aksie: die versameling van inligting (deesdae genoem ‘navorsing’).
Nog iets wat so duidelik soos daglig geword het, is dat meeste witterige Suid-Afrikaanse Christene (myself weer eens ingesluit) ‘n piepklein benul het van Europese (meer spesifiek Franse) kuns en kultuur. Ons oer-voorouers was dalk Franse Hugenote, maar ons is nie bekend met die manjifieke nuanses van mense se (weer eens) Godgegewe vermoë om die lewe en sy kompleksiteit deur woord, noot en beeld te omskryf nie.
Ons, die verdwaalde witteriges aan die suidpunt van Afrika, ken nie die diepte en trots en tradisie van ons susters en broers in Frankryk se kuns nie.
Wat my brein (en hart) egter die HEEL seerste maak, is dat baie Suid-Afrikaanse Christene (vermoedelik ook sommige Amerikaanses en selfs wyer) so uiters ongemaklik is met gedagtes en gebare rondom insluiting, gelykwaardigheid en menslikheid.
En op hierdie punt, vra ek jou mooi om asseblief nie ‘humanisties’ in die comments te tik nie, want God se menswording in Christus is tegelyk ‘n Goddelike én menslike (of humanistiese) blootlegging van ‘n diepe diepe wonder en nuwe werklikheid.
Hierdie Jesus, God se Seun, die Redder, Gesalfde, Leermeester, het ingesluit.
Hy het plek raakgesien en plek gemaak.
Hy was die herder van die verdwaalde skaap en die nuuskierige tollenaar.
Hy was nie skaam om saam met wilde vroue (en mans) gesien te word nie.
Hy was nie bang vir mense nie.
Daarom, hier in die middel van 2024, bied die debakels rondom die begin van die lieflikste sportgeleentheid op aarde, aan elkeen van ons die geleentheid om te besin oor onsself, ander mense en God.
En oor wat en hoe ons glo. En om te vra of dit lewe (lewe in oorvloed) bring vir my en ander.
Daarvoor is ek oneindig dankbaar en OPGEWONDE oor die Koninkryk wat aan’t kom is!