21/08/2019
HOE GROOT IS DIE HERE SE BELEGGING IN JOU LEWE?
Aan die einde van Jesus se lewe op aarde, kort voor Sy inhegtenisname, verduidelik Hy aan Sy dissipels die konsep hoe Sy Koninkryk gaan funksioneer. Hy gebruik twee treffende vergelykings, waarvan die tweede onlangs my oog gevang het.
Jesus verduidelik: die Koninkryk van die hemel gaan min of meer as volg funksioneer. ʼn Man wil op reis gaan, en vertrou dan aan drie van sy werksmense elk ʼn bedrag geld toe, elkeen volgens hulle eie vermoëns. Aan die een persoon weeg hy 5 talente af, aan nog ʼn persoon twee, en aan ʼn derde een. Dan gaan hy weg vir ʼn lang, onbepaalde tydperk, en as hy terugkom, vra hy dan rekenskap van elkeen van sy werknemers oor die talente wat hulle ontvang het. Ons ken die res van die verhaal.
In die vergelyking gebruik Jesus die term “talent”. Dis ʼn gewigsmaat, en een talent weeg ongeveer 75 pond, of 34 kg. Uit die konteks kan mens aflei dat die man sy goud afgeweeg en aan sy werkers toevertrou het. Die vertalers het dit in Afrikaans vertaal as “goue munte”.
Het jy enige idee wat die waarde van ʼn talent is? Ek het nie ged**k dis vreeslik belangrik nie, maar toe ek onlangs die verhaal weer lees, was ek nuuskierig oor die waarde van ʼn talent. As mens die storie lees, dan klink “een talent”, “twee talente” en “vyf talente” nie na vreeslik baie nie. Dis nou nie iets waaroor iemand uitermatig opgewonde sal raak nie.
Verkeerd! Die verduideliking wat Jesus gee, kry ʼn heel ander perspektief as jy weet waarvoor die 3 manne in die storie in was. Die een persoon wat die ou kleinste bietjie gekry het, net een ou talentjie, kry ons vinnig jammer, omdat hy mos nou nie vreeslik baie daarmee kon doen nie.
Jesus wou hê dat ons moet besef hoe groot die belegging is wat Hy in ons maak wanneer Hy Sy Koninkryk aan ons toevertrou. Dis enorm! Gemeet teen die huidige goudprys en Rand-Dollar waarde, sou een talent goud ʼn waarde hê van ongeveer R24 000 000. Dis reg, 24 miljoen rand. As jy ʼn salaris kry van R500 000 per jaar, is dit genoeg geld om jou hele loopbaan te befonds! En onthou: dis nou die hoeveelheid wat die ou gekry het wat niks daarmee gedoen het nie, en as verskoning gebruik het die feit dat sy baas ʼn moeilike ou is.
Wat Jesus vir jou uit hierdie verhaal wil leer, is dit: selfs al het jy nie die vermoë om vreeslik baie te doen nie, het Hy genoeg in jou belê om die res van jou lewe aktief besig te wees om in Sy Koninkryk te werk en ʼn verskil te maak op ʼn manier wat presies in jou kraal val.
D**k vir een oomblik wat jy sou doen as iemand nou vir jou R24 miljoen sou gee, en vir jou die opdrag gee om daarmee te gaan werk en dit ten goede aan te wend, en ʼn wins daarmee te maak, totdat hy terugkom? Met so ʼn belegging is jou keuses onbeperk!
Onthou nou: Jesus gee hierdie vergelyking aan Sy dissipels reg aan die einde van Sy opleidingstyd vir hulle. Teen hierdie tyd het hulle presies geleer hoe om “vissers van mense” te wees. Hulle was gereed, al het hulle nog nie mooi presies geweet waar om te begin en wat om te doen nie. Al wat hulle nodig gehad het, is om vir so 10 dae af te sonder, en om die Here se laaste stukkie strategie te ontvang om effektief Sy Koninkryk te bou en te vestig. En dis presies wat gebeur: vir 10 dae wag hulle op die Here in die Bo-vertrek en ontvang die krag en inspirasie van die Heilige Gees, waarna hulle strategies kon begin om die enorme groot belegging wat die Here in hulle belê het, effektief te begin gebruik. Sommer vinnig sien ons die eerste dividende op die belegging.
Die belegging wat Hy alreeds in jou gemaak het, is nie net groot genoeg om vir jouself te gebruik nie, dis groot genoeg om dit in ten minste nog een ander persoon te dupliseer.
Selfs al sou jy slegs ʼn een-talent-kandidaat wees, wat maak jy met die Here se rykdom wat Hy in jou lewe belê het? Watter verskonings gebruik jy om nie die belegging te gebruik om Sy koninkryk in iemand anders se lewe te reproduseer nie? Selfs al sou jy vir die res van jou lewe besig wees met net een persoon, sou jy alreeds die aanvanklike belegging kan dupliseer en ʼn dubbele syfer aan die Here terugbesorg wanneer Hy weer kom.
As jy nie weet hoe nie, kontak my! My lewe bestaan daaruit om mense af te rig om beleggings in God se koninkryk te dupliseer.