Abu Dhabi Afrikaanse Kerk

Abu Dhabi Afrikaanse Kerk Ons kerk in Abu Dhabi wil die oase van die Lewende Water vir jou en jou gesin in die woestyn wees

My Daaglikse Brood Lukas 24:50-53Lukas 24:51 (1983 vertaling) Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is ...
17/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 24:50-53

Lukas 24:51 (1983 vertaling) Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

- Jesus se hemelvaart beteken allermins dat Hy die dissipels (én vir ons) alleen agtergelaat het.
- Dit beteken wel dat Hy nou op ‘n ander manier by ons teenwoordig is.
- Hierop het Lukas ons reeds in hoofstuk 24:49 begin voorberei, soos ons gister gelees het.
- Hier in vers 53 word die verwagting verder versterk wanneer ons lees dat die dissipels gedoen het soos Jesus vir hulle gesê het en in afwagting in die tempel gebly het terwyl hulle God geprys het.
- In sy opvolgboek, Handelinge, beskryf Lukas breedvoerig wat Jesus se teenwoordigheid in en deur die Heilige Gees beteken en hoe Hy aan die werk is in die lewe van die kerk.
- Dieselfde Jesus wat by sy dissipels gewoon, gesterf het en uit die dood opgestaan het, het jou ook lief en belowe om altyd by jou te wees deur sy Gees!

Gebed: Here, dankie dat U altyd by my is, deur elke oomblik, elke uitdaging en elke vreugde. U konstante teenwoordigheid bring vir my troos en krag, Amen.









My Daaglikse Brood Lukas 24:36-49Lukas 24:44 (1983 vertaling) “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê...
16/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 24:36-49

Lukas 24:44 (1983 vertaling) “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

- Met ‘n stuk gebakte vis in die hand word alle twyfel finaal uit die weg geruim … Jesus het inderdaad opgestaan, Hy leef en Hy ís in die dissipels se midde!
- Ook ‘n ander saak word finaal deur Lukas beklink: in Jesus is die beloftes van die Ou Testament vervul en deur Jesus realiseer God se plan.
- ‘n Feit wat vir die dissipels as ooggetuies en ook vir elke gelowige sekerheid bied; sekerheid wat nodig is vir die uitvoering van God se toekomsplan, naamlik die verkondiging van Jesus se verlossingsboodskap aan almal!
- Die dissipels sal hierdie opdrag met durf en krag kan uitvoer, want hulle sal toegerus word met die Heilige Gees, soos die Vader belowe het.

Gebed: Dankie, Heilige Gees, dat U my ook bemagtig om die goeie nuus van Jesus Christus te verkondig en dat U my voortdurend lei en krag gee om dit te doen, Amen.









My Daaglikse BroodLukas 24:13-35Lukas 24:33-34 (1983 vertaling) Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggeg...
15/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 24:13-35

Lukas 24:33-34 (1983 vertaling) Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het self aan Simon verskyn!”

- Terwyl Jesus saam met hulle op pad is, herken die Emmausgangers Hom nie.
- Al wat hulle intuïtief aanvoel, is dat die man wat saam met hulle stap, iemand spesiaal moet wees.
- Eers wanneer hulle oë oopgaan, begryp hulle wat besig is om te gebeur en met die openbaring dat Jesus leef, is sy sigbare teenwoordigheid nie meer nodig nie.
- Wat wel nou nodig is, is dat hierdie boodskap verder uitgedra moet word: die Here het opgestaan!
- God se plan is dus op geen stadium belemmer en sy kinders glad nie in die steek gelaat nie.
- Met Jesus se opstanding is ‘n waarborg vir gelowiges uitgereik vir ‘n sinvolle lewe en nimmereindigende verhouding met die Lewende God!

Gebed: Here, ek dank U vir U offer aan die kruis en ek dank U vir U opstanding uit die graf, en God, ek bid dat hierdie waarheid lewendig sal word in elke mensehart, dat mense se geestesoë sal oopgaan en hulle Jesus sal herken vir wie Hy werklik is! Amen.









My Daaglikse BroodLukas 24:1-12Lukas 24:2 (1983 vertaling) Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf ...
14/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 24:1-12

Lukas 24:2 (1983 vertaling) Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.

- Lukas onderstreep die uitvoering van God se plan ietwat meer as Matteus en Markus.
- Hy beklemtoon deur die loop van sy evangelie die gedagte dat God in beheer is en dat sy hand duidelik in die geskiedenis gesien kan word.
- Die spesiale klem wat hy hier byvoorbeeld op die derde dag plaas in vers 7, moet in dié lig verstaan word aangesien dit dikwels gereken is as ‘n dag van verlossing (lees bv Genesis 42:17 en Hosea 6:2).
- Die opstandingsgebeure behoort dus eintlik nie verrassend te wees nie - dit is veel eerder deel van ‘n lang lyn van Goddelik-geïnspireerde gebeure en daarom is dit ook waar.
- Die engele by die graf het met reg gesê: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?”, Jesus is nie by die dooies te vinde nie ... Hy lewe!

Gebed: Almagtige Here, dankie vir die leë graf en Jesus se oorwinning oor die dood. Soos my sondes deur Jesus se dood vergewe is, so is my toekoms deur sy opstanding verseker, vir ewig! Amen.









My Daaglikse BroodLukas 23:50-56Lukas 23:52 (1983 vertaling) Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Je...
13/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 23:50-56

Lukas 23:52 (1983 vertaling) Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra.

- Dit is opmerklik dat Jesus nie deur sy dissipels begrawe word nie, maar deur ‘n buitestaander en Galilese vroue.
- Met die geleende graf van Josef van Arimatea word verhinder dat Jesus soos ‘n misdadiger in ‘n massagraf beland.
- Josef was ‘n ryk en gesiene lid van die Joodse Raad.
- Volgens Johannes 19:38 was hy ook ‘n geheime volgeling van Jesus.
- Terwyl die dissipels wat Jesus openlik gevolg het, vlug, tree hy nou vreesloos na vore as ‘n volgeling van Jesus.
- Lukas doen baie moeite om daarop te wys dat daar baie getuies was van Jesus se werklike dood en dat sy liggaam op ‘n spesifieke plek begrawe is.
- Daardeur word alle twyfel oor wat gebeur het in die kiem gesmoor.

Gebed: Heilige Gees, gee my die moed soos hierdie Josef man dit gehad het om sonder vrees te getuig van die waarheid en werklikheid van U dood en opstanding, Amen.









My Daaglikse BroodLukas 23:44-49Lukas 23:46 (1983 vertaling) Jesus het hard uitgeroep: ”Vader, in u hande gee Ek my gees...
12/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 23:44-49

Lukas 23:46 (1983 vertaling) Jesus het hard uitgeroep: ”Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

- Lukas beskryf nie net die reaksie van die mense wanneer Jesus sterf nie, hy beskryf ook twee ander belangrike gebeure, naamlik die duisternis oor die hele land en die skeur van die tempelgordyn.
- Die oomblik toe Jesus sy laaste asem uitblaas ... omtrent twaalfuur die middag, het dit vir drie ure lank donker geword, die son het ophou skyn, skryf Lukas ... die lig is as’t ware uitgedoof met Jesus se sterwe.
- Maar onmiddelik daarmee saam beskryf Lukas egter hoe die voorhangsel in die tempel skeur; hierdeur bevestig hy dat Jesus se sterwe nou ook vrye en direkte toegang tot God moontlik maak.
- Die voorhangsel was letterlik die gordyn wat die skeiding was tussen die heilige en die allerheiligste dele in die tempel; slegs die hoëpriester kon een keer per jaar in die allerheiligste ingaan om sonde-offers te bring namens die volk, Jesus se sterwe het dít vir altyd verander.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U nou ook ons Hoëpriester is, dat U sterwe dit vir ons moontlik maak dat ons deur geloof, in verhouding tot U kan en mag nader, enige tyd en vir ewig. Ons loof U as die Lig vir die wêreld, in U is daar geen duisternis nie! Amen.









My Daaglikse BroodLukas 23:26-43Lukas 23:33 (1983 vertaling) Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hull...
11/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 23:26-43

Lukas 23:33 (1983 vertaling) Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.

- In die eerste paar verse van die dieptepunt van Jesus se lyding maak ons kennis met Simon van Sirene wat help om Jesus se kruis te dra.
- Ons beleef Jesus se reaksie op die vroue se hartseer, wat sy ma ingesluit het, en wat deel was van die menigte wat agter Hom aangeloop het; merkwaardig dat Hy meer medelye met húlle nood toon as met sy eie.
- Ons beleef die volk, die raadslede, die soldate en dan ook die misdadigers se reaksies en optrede.
- Daar is bykans nie ‘n beter voorbeeld van God se genade in werking as die onmiddellike aanvaarding van die belydenis van die een misdadiger nie.
- Dat God toelaat dat sy Seun op hierdie veragtelike wyse sterf, en Jesus gehoorsaam Homself daaraan onderwerp, getuig van ‘n onbegryplike liefde vir verlorenes!

Gebed: Here Jesus, ek kan my moeilik ind**k hoe dit op hierdie dag sou gewees het maar ek weet dat U pyn en swaarkry en spot en vernedering verduur het, vir my en vir elkeen wat hulle na U toe draai soos die een misdadiger op dié dag gedoen het. Dankie dat U vandag nog hoor en luister wanneer ons vra: “Jesus, d**k aan my ......”, Amen.









My Daaglikse BroodLukas 23:1-25Lukas 23:25 (1983 vertaling) Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vr...
10/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 23:1-25

Lukas 23:25 (1983 vertaling) Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.

- Anders as in die ander evangelies, lees ons hier dat Jesus nie deur die Joodse Raad veroordeel is nie, maar dat hulle Hom geneem het na Pilatus, die Romeinse goewerneur van Judea waarin Jerusalem geleë was.
- Drie aanklagte word voor Pilatus neergelê: Jesus mislei die volk; Hy belet die mense om aan die keiser belasting te betaal; en Hy beweer dat Hy die Christus, die Koning is.
- Pilatus verneem dat Jesus ‘n Galileër is en probeer die saak op Herodes Antipas, die heerser van Galilea afskuif maar ook hy is nie bereid om verantwoordelikheid vir Jesus se vonnis te vat nie en stuur Hom terug na Pilatus toe.
- Uiteindelik gee Pilatus toe onder die druk van mense in hoë posisies en die volk en Jesus word skuldig bevind ...

Gebed: Here Jesus, dankie dat U vir ons versoening met God ons Vader, hierdie moeilike en onregverdige pad gestap het. ‘n Pad waar ménse telkens moes kies tussen die waarheid en leuens en opgetree het met lafhartigheid, vrees en eiewaan. Help my Heer om altyd op te staan vir U en vir die waarheid! Amen.









My Daaglikse BroodLukas 22:1-71Lukas 22:69 (1983 vertaling) “Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhan...
09/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 22:1-71

Lukas 22:69 (1983 vertaling) “Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit”

- Die gedeelte vanaf Lukas 22:1 tot 23:56 vorm die groot lydensverhaal in Lukas.
- Jesus sluit hier sy pogings af om die Jode en hulle leiers te oortuig van die waarheid van sy verkondiging, paasmaaltyd met sy dissipels word beplan en vind plaas, ons beleef dislojaliteit en mislukking, Jesus word gevange geneem en verskyn voor die Joodse Raad.
- In verse 1-38 begin die dramatiese wending in die verhaal en ons lees hoe ‘n komplot besig is om teen Jesus te ontvou.
- Tydens die paasmaaltyd berei Jesus sy dissipels voor vir hulle rol in die verkondiging van sy lyding en dood (verse 7-23).
- Ons kan die dislojaliteit van Judas teenoor Jesus (verse 21-23 en 47-48) en Petrus se mislukking wanneer hy Jesus verloën (verse 31-34 en 54-62) sien as pogings van Satan om Jesus se werk deur sy dissipels te ondermyn maar ... dit het nié God se beheer en trou kon aantas nie!

Gebed: Here Jesus, help my om altyd U pad te kies selfs wanneer uitdagings, twyfel en versoeking insluip. Herinner my aan U onwrikbare getrouheid en gee my die moed om sterk te staan ​​in U waarheid, Amen.









My Daaglikse BroodLukas 21:1-38Lukas 21:36 (1983 vertaling) “Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ...
08/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 21:1-38

Lukas 21:36 (1983 vertaling) “Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

- In die reeks van profetiese redes in hierdie hoofstuk vind ons die hoogtepunt van Jesus se leringe tydens sy aardse bediening.
- Die oordeel oor die tempel word aangekondig (verse 5-6) en Jesus waarsku die volk oor die totale verwoesting van Jerusalem (verse 20-24).
- Jesus waarsku teen vals messiase, natuurrampe en allerhande skrikwekkende dinge wat sal kom (verse 7-11), ook oor die vervolging wat sal kom maar Hy bemoedig sy dissipels dat hulle nie gekwel moet wees nie (verse 12-19).
- Die koms van die Seun van die mens bring egter hoop (verse 25-28) en gelowiges word opgeroep tot waaksaamheid en word vertroos met ‘n belofte dat volharding bekroon sal word (verse 34-36).
- Dié belofte staan vandag nog vas!

Gebed: Here Jesus, baie dankie vir U Gees wat in my woon en by my is. Help my en gee my krag om deur die dinge van die wêreld te kom en reg te leef. Dankie dat ek met vreugde kan uitsien na die dag wanneer ons U weer van aangesig tot aangesig sal sien, Amen.









My Daaglikse BroodLukas 20:1-47Lukas 20:2 (1983 vertaling) ... en Hom gevra: “Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdi...
07/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 20:1-47

Lukas 20:2 (1983 vertaling) ... en Hom gevra: “Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?”

- Wanneer ons hoofstuk 20 deurlees van begin tot einde beleef ons hoe die spanning opbou.
- Jesus se leringe word voortgesit te midde van die voortgaande bevraagtekening en opstand deur Joodse leiers.
- Verskillende afvaardigings van die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde probeer om Jesus vas te vra oor sy teologiese en selfs politieke leringe.
- Die sentrale vraag is na die gesag waarmee Jesus optree.
- Jesus antwoord nie die vraag direk nie, maar forseer sy opponente om stilswyend te erken dat sy gesag van God kom.
- Hy gebruik nog ‘n gelykenis om sy posisie te probeer verduidelik, omseil nog strikvrae deur geheime agente en raak vir die eerste keer ook met die Sadusseërs in ‘n diskoers betrokke.
- Geen ander geestelike kwessies kan waarlik sinvol wees as ‘n mens nie eers glo dat Jesus is wie Hy sê Hy is nie.

Gebed: Here Jesus, ek loof U as die volmaakte openbaring van God se genade en liefde, die volmaakte voorbeeld vir ons van hoe om te lewe en ek dank U Here, U het die volmaakte offer geword waardeur vergifnis en versoening met God moontlik geword het! Halleluja! U is die Seun van God wat mens geword het met die volle heerlikheid en gesag van God! Amen.









My Daaglikse BroodLukas 19:28-48Lukas 19:39-40 (1983 vertaling) ‘n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Menee...
06/03/2025

My Daaglikse Brood
Lukas 19:28-48

Lukas 19:39-40 (1983 vertaling) ‘n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil U volgelinge!” Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

- Die intog in Jerusalem vorm die oorgang tussen Jesus se lang reis na Jerusalem en sy bediening in die stad ter voorbereiding op sy kruisiging.
- ‘n Perd was ‘n krygsdier en daarom ‘n simbool van mag en geweld maar Jesus ry Jerusalem binne op ‘n donkie.
- Op so manier word sy Koningstatus (as ‘n ruiter op ’n “perd”) sowel as sy nederigheid bevestig soos reeds in die Ou Testament geprofeteer is (vgl Sagaria 9:9).
- Die Fariseërs neem Jesus daarvoor kwalik en versoek Hom om die mense wat Hom aanroep en loof as Koning, stil te maak.
- Hierdie daad van verwerping, wanneer Jesus hulle antwoord, is ook volgens die Lukasverhaal die Fariseërs se laaste optrede.
- Jesus se optrede in die tempel wanneer Hy die handelaars verjaag beklemtoon weereens dat Jesus die nederige Koning en die Christus is wat gekom het om die wil van sy Vader, tot sy eer te doen!

Gebed: Loof die Koning Jesus Christus! Hy wat gekom het in die Naam van die Here! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel! Amen.









Address

St Andrews Anglikaanse Kerk, Community Hall, Al Barq Street, Al Mushrif
Abu Dhabi

Opening Hours

17:30 - 18:30

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Abu Dhabi Afrikaanse Kerk posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to Abu Dhabi Afrikaanse Kerk:

Share